DIE OU PRESIDENSIE BLOEMFONTEIN
Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Erfenisstigting (ES) sal die Vrystaatse Provinsiale regering tot verantwoording hou om fondse te bewillig vir die herstel van die Presidensie in Bloemfontein. Wys jou steun om die Presidensie in Bloemfontein te restoureer.

Mediaverklaring
18 Augustus 2022
Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Erfenisstigting (ES) sal die Vrystaatse Provinsiale regering tot verantwoording hou om fondse te bewillig vir die herstel van die Presidensie in Bloemfontein.
Die growwe nalatigheid om instandhouding te doen en diefstal van erfenisartefakte is onder die FAK en ES se aandag gebring. Met ’n inspeksie is bevind dat die dak van die gebou in 2012 vervang is. Tien jaar later stort die water die gebou binne weens swak en of byna geen instandhoudingswerk wat gedoen is aan die gebou nie. Daar is gate in die plafonne, krake in die mure, opslagbome wat uit die geute groei aan die buitekant van die gebou, skade aan die houtvloere en skade aan artefakte soos kosbare Persiese tapyte. Geen Erfenisbestuursplan of bateregister kon tot op hede opgespoor word nie.
Daar is in samewerking met die Vrystaatse kultuurgemeenskap, politieke partye en vriende van die Ou Presidensie beswaar gemaak teen die wanbestuur van historiese erfenisterreine. Die LUR en haar departement het versuim om daadwerklik te reageer op die FAK en ES se versoeke om die skade voor die reënseisoen te herstel.
Dié organisasies het geen keuse gehad as om met ’n regsroete die departement van sport, kuns en kultuur aan te por tot aksie nie.
Verteenwoordigers van dié departement het Dinsdag 16 Augustus ’n openbare vergadering belê, waartydens onderneem is om befondsing te probeer bewillig vir die eerste fase van die herstelwerk en ’n samewerkingsmemorandum op te stel vir al die rolspelers. Die FAK en ES het aangebied om te help met die herstel en die skoonmaak van die Presidensie en terrein.
Die eerste bewoner was president JH Brand en gedurende hierdie tyd was die Presidensie die middelpunt van die sosiale lewe in die dorp. President Brand het hier gewoon tot met sy dood op 14 Julie 1888.
Van 1888 tot 1895 het president FW Reitz en vanaf 1896 tot 1900 president MT Steyn die Presidensie bewoon. Tydens president Steyn se verblyf is belangrike besoekers soos president Paul Kruger en sir Alfred Milner in die Presidensie ontvang.
Na die inname van Bloemfontein deur die Britse magte op 13 Maart 1900 het veldmaarskalk lord FS Roberts die woning gebruik en van 1901 tot 1910 was dit die Goewermentshuis, die woning van die goewerneur van die Oranjerivier-kolonie, sir HJ Goold-Adams.
Die datum van die volgende vergadering sal nog aangekondig word.