MUSEUMTEATER

Bespreek jou kaartjies vandag en kom ervaar jou geskiedenis soos nog nooit tevore nie. Die eerste teater van sy soort in die suidelike-halfrond en uniek vertel en ingekleur met die Afrikaner geskiedenis van 120 jaar.

MEER OOR DIE MUSEUMTEATER

Die Toekomsbou-museumteater

By die Toekomsbou-museumteater integreer ’n tradisionele museum met interaktiewe teater. Leer meer oor die Afrikaner se herkoms en geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog tot vandag deur te skater, sing, huil en dieper te dink.

Meer oor die tonele

JP de Villiers studeer grafiese ontwerp en is getaak met ’n projek oor sy herkoms wat 50% van die semester tel. Wie dink dié goed uit? JP het geen idee waar om te begin nie, of waar hy eintlik vandaan kom nie! Met sy ouma se familiefotoalbum reis hy terug in tyd om te gaan kuier by die dames in sy familie. Hy begin in 1902 by sy oeroumagrootjie …

Gedurende sy soektog tot sy herkoms, herontdek JP eintlik wie hy is en beland op ’n kruispad wat sy hele toekoms sal bepaal. Wat is JP se uiteindelike keuse op die vraag: Is daar nog leef in dié land?

ONTMOET DIE KARAKTERS

JACQUES PHILLIP DE VILLIERS

DIE STUDENT

JP de Villiers is op soek na sy erfenis … na wat dit beteken om ’n De Villiers te wees, maar ook wat sy familie deurgemaak het sodat hy ’n onmoontlike universiteitstaak kan voltooi en hopelik die semester kan deurkom. Maar wat JP nie weet nie, is dat hy soveel meer uit hierdie soektog sal kry as net oulike staaltjies vir sy taak.

ANNA PETRONELLA NEL (NÉE DE JAGER)

DIE ANGLO-BOEREOORLOG-OORLEWENDE

Oeroumagrootjie Petro is die enigste oorlewende van haar gesin wat gevangene gehou is by Bethulie-konsentrasiekamp. Sy het gesien hoe hulle plaashuis en landerye afgebrand is, maar ook hoe haar ma en twee susters by haar in die konsentrasiekamp gesterf het. Kort daarna kry sy die tyding dat haar broer doodgeskiet is in ’n skermutseling met die Britte en haar pa is as krygsgevangene geneem. Sy hoop dat haar pa steeds lewe anderkant die bloue oseaan op Ceylon. Vir nou neem sy skuiling in ’n kerk en begin om die landerye weer te bewerk.

ANNA CATHERINA PETRONELLA MARÉ (NÉE NEL)

LEERLING EN STRYKSTER

Oumagrootjie Catherina is as kind ’n ware donkie in die sin dat sy haar nie laat afskrik deur ’n Engelse onderwyseres nie. As sy Afrikaans wil praat, dié sal sy dan! Al moet sy donkieore soos ’n kroon dra. Later trou sy met ’n myner en het ’n kroos kinders om na om te sien op Fordsburg. As armblanke stryk sy ’n toekoms vir haar kinders oop!

ANNA MARÉ

OSSEWABRANDWAG-SPIOEN

Groottante Anna, haar ma se slim kind, word ’n spioen. Tydens die oorlogsjare beheer sy haar manskappe met ’n ysterhand om Slim Jannie se oorlogsplanne teen te werk. Maar wat sy presies aanvang agter toe deure by haar geheime vergaderings is nou nie alombekend nie. Soos Groottante Anna altyd sê met hand op die bors: “As ek storm, volg my. As ek val, wreek my. As ek omdraai, skiet my. Maar net nie nou nie, want ek is op pad uit.”

CHRISTINA MARÉ

SEKRETARESSE EN SANGONDERWYSERES

Groottante Christina is nes haar ma so steeks soos ’n donkie. Sy bevind haar in ’n tydelike pos in die staatsdiens. Vir Verwoerd doen sy net die minimaal in ruil vir haar staatsdienssalaris. Tog as middelkind streef sy steeds na erkenning, en verander toe van beroep na die onderwys. In die sangklas lewe sy uiteindelik haar passie vir Afrikaanse liedere uit. Maar moet net nie ’n valse noot sing nie, sy is nog net so kort van draad!

CHRISTINA DE VILLIERS

DIE SOLDOEDIE

Tannie Christina, nou van die ander kant van die familie, het besluit om in haar broer se voetspore te volg. Dae van Liewe Heksie, Keurboslaan en Oros-drink is verby! Sy het ingeskryf by die Vroueleërkollege op George sodat sy ook haar plig kan doen vir Volk en Vaderland in die onstuimige tye van die 1980’s.

JACOBA PHILLIPA MEYER (NÉE MARÉ)

DIE BOERVROU

Ouma Jacoba is vernoem na haar pa, Jacob, die myner, maar ruik nes haar ma, Catherina na skoon wasgoed. As boervrou is haar familie haar trots en haar gunstelingtydverdryf om haar kleinseun JP te bederf. Maar daar is ook ’n donkerte uit haar verlede wat haar gedagtes oorneem elke keer as sy aan haar Faan dink. Sedert sy die familiealbum vir JP gegee het vir sy universiteitstaak, dink sy al hoe meer aan daardie dag. Die storie moet uit … sy kan dit nie meer van JP weerhou nie.