OOR ONS

UITSTALLINGS

1942-AFRIKANER UITSTALLING

Die tweede wêreld oorlog het ‘n polariserende uitwerking op die Afrikaner gemeenskap in Suid-Afrika gehad. Baie Afrikaners het by die Unie-magte onder generaal Jan Smuts aangesluit en ‘n groot rol gespeel in die verset teen Duitse magte in Noord-Afrika. Baie Afrikaners was ook egter gekant teen die idee om oorlog teen Duitsland te voer. Die duitsers was immers altyd behulpsaam teenoor die Afrikaners. Die Ossewa Brandwag het ‘n leidende rol gespeel in die verset teen die Suid-Afrika se betrokkenheid by die tweede wêreldoorlog. Was die OB simpatiek teenoor Duitsland? Of wou hulle bloot nie saam met Britanje, die boere se vyande van die Anglo-Boere oorlog veg nie? Kom besoek die uitstalling en besluit self.

DIE OSSEWABRANDWAG

Vandag nog ontlok die blote noem van die naam Ossewabrandwag (OB) uiteenlopende menings. Daar is heelwat wanpersepsies oor die beweging wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit. Die OB is met die Europese fascistiese bewegings van die 1930’s en 1940’s vergelyk en van Nazisme beskuldig. Dit is ook al beskryf as ’n ondergrondse terreurbeweging. Selfs die wortels van apartheid is in die beweging gesoek.

Daar word grootliks vergeet dat die OB in die vroeë 1940’s, op die hoogtepunt van sy gewildheid, waarskynlik nie ‘n gelyke in die Afrikanergeskiedenis gehad het nie. Met meer as 300 000 lede was die beweging die grootste van sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner.

Die OB is in 1939 aanvanklik as ’n kultuurorganisasie (met ’n mans-, vroue- en jeugafdeling) gestig, maar onder sy charismatiese leier Hans van Rensburg is dit geleidelik verpolitiseer tydens die onstuimige oorlogsjare toe daar ’n genadelose stryd om beheer van die Afrikanersiel was.

Hoewel die beweging ’n eiesoortige nasionaal-sosialisme aangehang het, was die hoofdryfveer altyd Afrikanernasionalisme en die vestiging van ’n republiek – wat as geregverdigde strewes in die stryd teen Britse oorheersing beskou is. In die nadraai van die lyding en smart van die Anglo-Boereoorlog, asook die ontnugtering van die Rebellie, was die OB die Duitsers goedgesind en die Britte vyandiggesind gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die grondslag daarvan was eerder ’n anti-Britse as dié van ’n pro-Nazi-gesindheid.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was Afrikaners self meer verdeeld en hulle onderlinge bitterheid was groter as ooit. Die OB was vasgevang in daardie interne konflik en moes die stryd boonop op twee fronte voer – aan die een kant teen die destydse Nasionale Party en aan die ander kant teen die Smuts-regering, wat besluit het om Brittanje se oorlogspoging aktief te steun. Op die lange duur sou die OB met sy soms volksvreemde ideologiese beginsels nie al die aanslae kon deurstaan nie. Benewens al die vooroordele was daar ook die realiteit dat ’n kleiner aktivistiese groep, die Stormjaers, binne die OB ontstaan het. Die Stormjaers het hulle tot sabotasie gewend, terwyl die meeste lede van die OB teen enige vorm van geweld gekant was. Hoewel die Stormjaers onafhanklik gefunksioneer het, word hul dade van sabotasie dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf.

In ’n landwye vlaag van sabotasie is plofstof onwettig vervaardig, strategiese instellings opgeblaas en verbindingslyne, asook kragdrade en kragstasies, op
groot skaal vernietig, terwyl gewaagde inbrake en rooftogte uitgevoer is. Hulle het met Nazi-Duitsland geskakel en ’n doelbewuste poging aangespoor om
geallieerde skeepvaart te stuit. Daar was ook gewelddadige vergelding vir talle wat as afvalliges van die Afrikanersaak beskou is. Baie sluipmoorde was beplan, maar slegs ‘n paar is uitgevoer. Op sy beurt het die Smuts-regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is (soms ongegrond), in die land in interneringskampe op verskeie plekke aangehou. Honderde is sonder verhoor in die tronk aangehou

DIE OSSEWABRANDWAG EN DIE TWEEDE WÊRELDOORLOG

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het gelei tot verdere verdeeldheid onder Afrikaners. Die regering het van alle burgers verwag om saam met Engeland en die Geallieerde Magte tot die oorlog teen Duitsland toe te tree, maar vir ’n groot aantal Afrikaners was die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie van 1914 nog te vars in die geheue.

DIE REDES VIR HUL VERSET WAS DRIELEDIG:

  1. Hulle het die oorlog as ’n geleentheid beskou om uiteindelik ’n onafhanklike republiek te vestig.
  2. Hulle het gewetensbesware gehad teen samewerking met die vyand van net ’n paar dekades gelede.
  3. Duitsland is as ’n vriendskaplike land beskou na aanleiding van die morele steun wat hy tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Boere verskaf het, en daar is gehoop dat as Duitsland die oorlog sou wen, hy hom nie met Suid-Afrika se interne sake sou bemoei nie.

Die OB, met sy goed gevestigde kommunikasiestrukture, was die ideale organisasie om die leiding in hierdie versetbeweging te neem. Die ledetal het vinnig gegroei en daar word berig dat teen 1941 daar ongeveer 350 000 lede aan die OB behoort het

PRESIDENTE EN PREMIERS

REPUBLIEKWORDING

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword. Daarmee het hy sy algehele onafhanklikheid van die Britse Ryk verklaar, en hom losgemaak van die langarm-regering deur Londen wat self ná Uniewording in 1910 steeds oor Suid-Afrika gegeld het. Suid-Afrika se lidmaatskap van die Britse Statebond is gevolglik opgeskort en hy moes opnuut daarom aansoek doen. Toe dit blyk dat die toegewings waarop lidlande aandring alvorens hy weer tot die liggaam toegelaat word, naamlik een man een stem – wat sou lei tot ’n swart meerderheidsregering, te veel gevra was, het Suid-Afrika, onder aanvoering van sy eerste minister, dr. HF Verwoerd, sy aansoek teruggetrek en so sy selfrespek behou.

H.F. VERWOERD | ONBEKEND

F.W. DE KLERK | PHIL MINNAAR

B.J. VORSTER | ONBEKEND

LEIERSKAP:

OOR OU OOMS EN HUL HOEDE PROF. DANIE GOOSEN

Die geskiedenis rig altyd uitdagings aan ons. Ongelukkig stem die woord ‘uitdaging’ sommige tot moedeloosheid.  Dit is egter die verkeerde reaksie. Uitdagings bied enorme geleenthede aan ons om met verbeeldingryke denke en dade vorendag te kom. En op die uitdagings te antwoord. ’n Antwoord op die uitdagings gaan dikwels gepaard met ’n verlewendiging van die eie. Sonder uitdagings loop ons die risiko om in die middelmatige te versink.

Ons leiers uit die verlede is ’n goeie voorbeeld. Tydens die 20ste eeu het Afrikaners voor talle ernstige ekonomiese, sosiale en politieke uitdagings te staan gekom. Die antwoord wat Afrikaners onder die leierskap van die ou ooms gegee het, het met bykans onvergelykbare prestasies op elke terrein van die lewe gepaard gegaan. Gryp die uitdagings aan, lui die positiewe boodskap van ons leiers.

Te midde van die talle uitdagings waarvoor ons vandag te staan gekom het, is die stryd om idees een van ons grootste uitdagings. Om dit tot ’n enkele vraag in te kort: Hoe antwoord Afrikaners op die ideologiese ‘goed versus kwaad’-skema wat op ons leiers en ons geskiedenis oorgedra word? ’n Geloofwaardige antwoord (wat histories, rasioneel en eties goed begrond is) is vir ons as selfrespekterende kultuurgemeenskap lewensnoodsaaklik.

ARGIEWE