OOR ONS

NAVORSING

Die ES is in sy kernwese ’n navorsingsentrum wat die kennis oor die Afrikaner se geskiedenis aan die Suidpunt van Afrika uitbou. Dit is die ideale plek vir nagraadse studente en ander navorsers om inligting oor Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuurgeskiedenis te bekom.

DIE NASLAANBIBLIOTEEK

Die biblioteek van die Erfenisstigting het in 2001 begin toe die Hertzog Trust-versameling op bruikleen by die Voortrekkermonument aangekom het. Op daardie stadium was die administratiewe/vakkundige personeel nog in die huis op die gronde gehuisves. Van daardie oomblik af het mev. Pretorius (die eerste bibliotekaris) aktief begin om ’n biblioteek op die been te bring.

Toe die biblioteek in 2008 na die Erfenissentrum verhuis het, het die biblioteek dadelik hordes skenkings ontvang van weldoeners en vanaf die Gautengse biblioteekdienste af. Die biblioteek se versameling het begin om geskiedkundige temas te versamel soos die Groot Trek, Die Rebellie van 1914–1915, die Voortrekkermonument en die Afrikanerrepublieke, om net ’n paar te noem. Die versameling het uitgebrei na die geskiedkundige waarde agter die Afrikaner-erfenisterreine soos dié van Bloedrivier, Vegkop, Slagtersnek ens. Inligting oor bekende Afrikanerfigure, byvoorbeeld Koos de la Rey en Paul Kruger, word versamel saam met Groot Trek-helde soos Andries Pretorius en nog vele meer.

Indien die geskiedenis van erfenisterreine en helde nie genoeg is nie, versamel die biblioteek ook temas soos die ontstaan van dorpe en stede binne die Republiek asook temas rakende die kultuur, musiek, taal en literatuur van die Afrikaner. Omdat dit die Erfenissentrum se beleid is om net Afrikanergeskiedenistemas te versamel, versamel die biblioteek net kuns en letterkunde wat groot waarde tot die Afrikanerontwikkeling bygedra het.

Terwyl die Erfenissentrum trots kan voel oor haar boekversameling, kan sy ook spog met ’n groot versameling tydskrifte, waaronder Die Ster, Panorama, Huisgenoot en Die Jongmens, om net enkeles te noem. Saam met die tydskrifte, huisves die biblioteek ook ’n versameling staatskoerante en -debatte, ook wat uit die era van Natalia, Transvaal, Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie dateer.

Die biblioteek mag dalk begin het met die Hertzog-versameling, maar dié het gegroei om uiteindelik ’n navorsingsentrum te skep vir enige iemand wat meer oor sy of haar geskiedenis wil leer en ook om ’n veilige hawe te skep vir die Afrikanerverhaal.

DIE ARGIEF

Die argiefbewaarplek van die Erfenisstigting bestaan sedert 2002 en is ’n inligtingsbron wat sistematies georganiseer is in diens van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. Dit is die amptelike bewaarplek van die twee organisasies se argivale dokumente, en berg hul administratiewe, eiendoms- wetlike en ander regsdokumente. Die argief bestaan ook uit ander versamelings en huisves die argiefmateriaal van sommige Afrikaanse kultuurorganisasies, persoonlike rekords, ’n fotoversameling, argitekstekeninge en kaarte, oudiovisuele materiaal, manuskripte en ander rekords.

Die funksie van die argief is eerstens om rekords/materiaal met historiese waarde te identifiseer, te bekom en te evalueer sodat dit kan dien as geheue vir nageslagte; tweedens om behoorlike toestande te skep vir die berging, beskerming en bewaring van die argiefrekords en ander versamelings; derdens om argiefrekords en versamelings te orden en te beskryf, sodat hulle fisiese ligging gedokumenteer kan word; en vierdens om vindstelsels voor te berei vir naslaan en om argivalia beskikbaar te maak en hulp aan navorsers te verleen.

As ’n ryke bron van inligting oor die Suid- Afrikaanse kultuurgeskiedenis, dien die argief ook ander wetenskappe, beantwoord as instansie amptelike en akademiese navrae en gee aan navorsers voorligting in die wyse en metode van navorsing. Die argief bied toegang tot die inligting met die vereistes van die Wet en skenkingsooreenkomste ooreengekom. Die argief vorm ’n integrale deel van die Voortrekkermonument se kulturele erfenis.

MUSEUMDIENSTE

Die museumdienste van die Erfenisstigting is verantwoordelik vir die insameling, versorging en uitstalling van museumvoorwerpe van die Voortrekkermonument-erfenisterrein, sowel as die Bloedrivierterrein. Op die Voortrekkermonument-erfenisterrein is daar voorwerpe op uitstalling binne die Voortrekkermonument, die Erfenissentrum, die Pioniersentrum en Fort Schanskop. Binne-in die Erfenissentrum is daar ook ’n museumstoor waar erfenisskatte bewaar word. Bewaring is ’n uiters belangrike funksie van die museumdienste, waar daar gesorg moet word dat die voorwerpe vir toekomstige geslagte behoue bly.

Die ruimte waarin die voorwerpe gestoor en uitgestal word, moet aan internasionale museumstandaarde voldoen en ’n sekere temperatuur en humiditeit gehandhaaf word. Die museumversameling bestaan uit voorwerpe wat dateer uit die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog en pionierstydperk. Daar is ook heelwat memorabilia wat verband hou met die Voortrekkermonument se hoeksteenlegging tydens die 1938-Simboliese Ossewatrek, asook die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Behalwe vir die voorwerpe wat die Erfenisstigting en Voortrekkermonument besit, is daar ook bruikleenooreenkomste met ander instansies om na hulle skatte om te sien. Dit sluit kunsvoorwerpe in soos Pierneef-skilderye en beelde van Anton van Wouw en Phil Minnaar.