OOR ONS

WIE IS ONS

Die Erfenisstigting (ES) is in 2002 as ’n maatskappy sonder winsoogmerk gestig en is ’n gerekende speler binne die Suid-Afrikaanse kulturele erfenisindustrie. Die Erfenisstigting is die versamelpunt van die Afrikaner se nalatenskap vir die volgende geslag.

Deur middel van ons argief, biblioteek en museumstoor kan ons sorg dat die kern van Afrikanerkultuur en -geskiedenis behoue bly vir die volgende geslag. Verder is die ES ook aktief betrokke by die beskerming en bewaring van verskeie Afrikaner-erfenisterreine regoor Suider-Afrika.

Die opvoedkundige rol van die ES word vervul deur middel van uitstallings wat op ’n gereelde grondslag vernuwe word om ’n verskeidenheid van onderwerpe in die kalklig te plaas. Navorsers, akademici en ander belangstellendes kan ook die naslaanbiblioteek en die argief besoek.

Verskeie vaste, roerende en nie-tasbare Suid-Afrikaanse erfenishulpbronne word bedreig ten spyte van wetlike beskerming. Bedreigde erfenishulpbronne sluit onder meer in historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte. Bedreigings wissel van natuurlike verval, toevallige skade en vandalisme, tot gebrek aan befondsing en kapasiteit as gevolg van verskuiwings in politiese ideologie en staatsprioriteite.

Vir sekere groepe, soos minderheidsgroepe en ander gemarginaliseerde groepe, is die erfenishulpbronne tasbare uitdrukkings van hul identiteit. Waar bedreigings manifesteer, veral as gevolg van vandalisme en politiese of burokratiese afsydigheid, is dit onvermydelik dat sommige gemeenskappe die gevolge as ’n direkte aanslag op hul kultuur en identiteit beskou.

Om die ES se visie te bereik, het ons vyf programme ontwikkel wat daarop gemik is om fondse in te samel om bedreigde erfenis te beskerm. Hierdie fondse stel ons in staat om die nodige infrastruktuur, kundigheid en dienste te bied om bedreigde roerende en vaste erfenishulpbronne te bestuur, erfenisnavorsing te onderneem en publieke bewustheid van die belangrikheid en waarde van erfenis te skep.