Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO), het ’n ongelooflike skat aan die Erfenisstigting (ES) oorhandig, sodat dit deur die publiek besigtig kan word. ’n 1933-vertaling van die Bybel, geteken deur die vertalers van die Bybel in ons eie taal, is nou te sien by die Voortrekkermonument (VTM) in die Erfenisstiging-gebou.

“Ter aandenking aan die aandeel wat u gehad het in die vertaling van die Bybel in ons eie taal,” staan voor in die Bybel, waaronder die handtekeninge van JD Kestell, JD du Toit (Totius), HCM Fourie, EE van Rooyen en BB Keet – die vertalers wat aan die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans gewerk het.

George Bester, die voorsitter van die BCVO se direksie, het dié Bybel gekoop toe hy die waarde daarvan besef. Die BCVO, wat graag saam met die ES en VTM werk tot die bewaring en uitbouing van Afrikanererfenis, het dit goedgedink om dié Bybel in die ES se bestaande Afrikaanse Bybeluitstalling te plaas.

Dié Bybeluitstalling, genaamd “die Afrikaner se geloofsbelewenis,” maak deel uit van die “Afrikaners in die 20ste eeu”-uitstalling. Bester het met ’n vorige besoek aan die VTM hierdie uitstalling besoek en besef dat die Bybel ’n kosbare toevoeging tot die uitstalling sal wees.

“As BCVO wil ons help bou aan ons kultuurerfenis. Hoe beter as om prakties betrokke te raak? Deur items soos dié maak ons geskiedenis lewendig,” sê Bester.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM en die ES merk op: “Dis ’n Bybel wat gelees is.”

Die geskiedenis van die Afrikaner is geskryf deur voorouers wie se geloof rotsvas was en sal ook op dieselfde wyse uitgebou word.

Dié Bybel is deur die diakens van die NG Gemeente Bloemfontein aan die leraar, dr. JHJ Greyvenstein, as geskenk gegee op 26 Augustus 1933.