Die Ossewabrandwag-uitstalling wat in die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument uitgestal was, is nou in Orania se Kultuurhistoriese museum te sien.
Jan van Zyl van die Orania dorpsraad spreek sy dankbaarheid uit teenoor die Erfenisstigting en is baie opgewonde oor die uitstalling.
“Hierdie uitstalling skakel ook met ons omgewing, omdat daar interneringskampe by Koffiefontein en Kleinfontein naby ons was,” sê Van Zyl.
Die uitstalling is nou oop vir die publiek om te besigtig.
“Daar is soveel diepte en inhoud van ons geskiedenis, waarvan ons mense in Orania ook moet kennis neem. ’n Uitstalling soos hierdie een gee beter insig in ons verlede, waar ons presteer het en ook foute gemaak het. Dit bemagtig ons om beter besluite te neem vir die toekoms,” sê Van Zyl.
Rienie du Toit (néé Kriek) wie se pa deel was van die Ossewabrandwag in Ganspan, Koffiefontein en Narsaplein, was ook by die opening van die uitstalling in die museum.
Sy vertel die verhaal van haar pa se Ossewabrandwag-dae, asof sy dit soos gister onthou.
“Hy was een van die nege geïnterneerdes wat ontsnap het uit Ganspan in ’n 50 meter lange tonnel. Oor dae is die tonnel gegrawe, dan is hulle weer terug,” sê Du Toit.
“Hulle moes dit in die huisie waar hulle gewoon het in Ganspan, so kamoefleer sodat niemand kan sien waar begin die tonnel nie. Die tonnel het uiteindelik uitgekom anderkant waar die kamp omhein is.”
Du Toit vertel verder van ’n man, Danie du Toit, wat klavier gespeel het om die wagte se aandag af te trek. Elke keer as hy begin klavier speel, was dit ’n geleentheid vir iemand om te ontsnap. Deur morsekodes is boodskappe gestuur en ’n motor het die gevangene opgetel as hy anderkant die tonnel uitkom.
“My pa was lank voortvlugtend. Hy het lank in Babanango gaan skuil en by vriende. Hy het aantekeninge gemaak van watter datums en by wie hy huisvesting gekry het,” vertel Du Toit.
Klik gerus HIER om na die stemopname van Rienie du Toit te luister waar sy die merkwaardige storie van haar pa vertel.
Die Erfenisstigting is dankbaar om so ’n waardevolle uitstalling selgs vir een jaar op bruikleen te stel aan ’n omgewing waar dit nie net bewaar sal word nie, maar ook betekenis dra vir die mense van daardie omgewing.