
Die mosaïek-uitbeelding by die Louis Tregardt-gedenktuin in Mosambiek blink nou weer soos in die ou dae nadat ’n span van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting opknappingswerk daar gaan doen het.
Die gedenktuin met die mosaïekbeeld wat die Voortrekkerleier Tregardt (ook gespel Trichardt) se trek uitbeeld, is amptelik in 1968 deur oudminister Jan de Klerk geopen.
Verskeie van die mosaïekteëltjies het oor die jare gebreek en losgetrek.
Die meeste van die teëltjies het weggeraak en die opknappingspan het ingetree sodat daar nie verdere verweer kan plaasvind nie.
AfriForum TV se program Byt en Buskruit, met die aanbieder en bekende kunstenaar Adam Tas, het as deel van een van hulle episodes ook die opknappingswerk opgeneem.
Adam en die kunstenaar Ruhan du Toit, wat ook deel was van die episode, het met groot lof gepraat oor die werk wat gedoen is.
“So min mense weet dat daar ’n monument opgerig is in een van ons buurlande vir die Voortrekkers. Dit wys jou die deursettingsvermoë wat mense soos Louis Tregardt gehad het.
“Dit is ongelooflik om te sien dat organisasies soos die Erfenisstigting na die afgeleë terreine omsien. Julle het ongelooflike werk gedoen om die monument op te knap,” sê Adam Tas.
Chris de Jager, ’n plaaslike sakeman in Mosambiek, het opnuut ook bevestig dat hulle onbaatsugtig die tuine sal in stand hou, sekuriteit verskaf by die gedenktuin en algemene instandhouding sal doen.
Jaco Cilliers, hoof van erfenisbewaring by die Erfenisstigting, het sy dank uitgespreek teenoor De Jager en die werk wat daar gedoen word om die gedenktuin op te pas.
“As dit nie vir hulp van die mense soos Chris was nie, sou dit nie moontlik gewees het om die gedenktuin so goed in stand te hou nie, en daarvoor kan ons nie genoeg dankie sê nie.
“Hierdie monument is ’n belangrike deel van ons geskiedenis. Dit dui nie net die roete van Tregardt aan nie, maar dien ook as bewys dat die Voortrekkers positiewe verhoudings buite die grense van Suid-Afrika gehandhaaf het.
“Dit was ’n ongelooflike voorreg en ’n persoonlike hoogtepunt om aan die herstel van die monument te kon deelneem,” sê Cilliers.
Die Erfenisstigting is verantwoordelik vir die bewaring van terreine soos die Tregardt-gedenktuin, Bloedrivier-erfenisterrein en verskeie konsentrasiekampbegraafplase.