WIE ONS IS

Die Erfenisstigting (ES) is in 2002 as ’n maatskappy sonder winsoogmerk gestig en is ’n gerekende speler binne die Suid-Afrikaanse kultuurerfenis-sektor. Die Erfenisstigting is die versamelpunt van die Afrikaner se nalatenskap vir die volgende geslag.
Deur middel van ons argief, biblioteek en museumstoor kan ons sorg dat die kern van Afrikanerkultuur en -geskiedenis behoue bly vir die volgende geslag. Verder is die ES ook aktief betrokke by die beskerming en bewaring van verskeie Afrikanererfenisterreine regoor Suider-Afrika.
Die opvoedkundige rol van die ES word vervul deur middel van uitstallings wat op ’n gereelde grondslag vernuwe word om ’n verskeidenheid van onderwerpe in die kalklig te plaas. Navorsers, akademici en ander belangstellendes kan ook die naslaanbiblioteek en die argief besoek.
Die Erfenisstigting bevorder ontasbare erfenis deur die beskikbaarstelling van verskeie erfeniskursusse wat die kundigheid oordra om erfenishulpbronne te beskerm, versorg en te bewaar, asook belangrike kultuurhistoriese kennis wat belangrik is vir die interpretasie en historiese konteks van oudhede.
Verskeie vaste, roerende en nie-tasbare Suid-Afrikaanse erfenishulpbronne word bedreig ten spyte van wetlike beskerming. Bedreigde erfenishulpbronne sluit onder meer in historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte. Bedreigings wissel van natuurlike verval, toevallige skade en vandalisme, tot gebrek aan befondsing en kapasiteit as gevolg van verskuiwings in politiese ideologie en staatsprioriteite.


Vir sekere groepe, soos minderheidsgroepe en ander gemarginaliseerde groepe, is die erfenishulpbronne tasbare uitdrukkings van hul identiteit. Waar bedreigings manifesteer, veral as gevolg van vandalisme en politiese of burokratiese afsydigheid, is dit onvermydelik dat sommige gemeenskappe die gevolge as ’n direkte aanslag op hul kultuur en identiteit beskou.
Om te voorkom dat erfenis tot niet gaan, tree die Erfenisstigting as beskermheer op van Afrikanererfenis. Deur die Erfenisstigting te ondersteun met befondsing, of gebruik te maak van die dienste wat ons bied, help jy om ons in staat te stel om die nodige infrastruktuur, kundigheid en dienste te bied om bedreigde roerende en vaste erfenishulpbronne te bestuur en publieke bewustheid van die belangrikheid en waarde van erfenis te skep.