PRESIDENTE EN PREMIERS-UITSTALLING

REPUBLIEKWORDING

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ’n republiek geword. Daarmee het hy sy algehele onafhanklikheid van die Britse Ryk verklaar, en hom losgemaak van die langarm-regering deur Londen wat self ná Uniewording in 1910 steeds oor Suid-Afrika gegeld het. Suid-Afrika se lidmaatskap van die Britse Statebond is gevolglik opgeskort en hy moes opnuut daarom aansoek doen. Toe dit blyk dat die toegewings waarop lidlande aandring alvorens hy weer tot die liggaam toegelaat word, naamlik een man een stem – wat sou lei tot ’n swart meerderheidsregering, te veel gevra was, het Suid-Afrika, onder aanvoering van sy eerste minister, dr. HF Verwoerd, sy aansoek teruggetrek en so sy selfrespek behou.

Hierdie uitstalling is te sien op die grondvloer van die Erfenissentrum van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 16:00.

H.F. VERWOERD | ONBEKEND

F.W. DE KLERK | PHIL MINNAAR

B.J. VORSTER | ONBEKEND

LEIERSKAP

OOR OU OOMS EN HUL HOEDE

deur prof. Danie Goosen

Die geskiedenis rig altyd uitdagings aan ons. Ongelukkig stem die woord ‘uitdaging’ sommige tot moedeloosheid.  Dit is egter die verkeerde reaksie. Uitdagings bied enorme geleenthede aan ons om met verbeeldingryke denke en dade vorendag te kom. En op die uitdagings te antwoord. ’n Antwoord op die uitdagings gaan dikwels gepaard met ’n verlewendiging van die eie. Sonder uitdagings loop ons die risiko om in die middelmatige te versink.

Ons leiers uit die verlede is ’n goeie voorbeeld. Tydens die 20ste eeu het Afrikaners voor talle ernstige ekonomiese, sosiale en politieke uitdagings te staan gekom. Die antwoord wat Afrikaners onder die leierskap van die ou ooms gegee het, het met bykans onvergelykbare prestasies op elke terrein van die lewe gepaard gegaan. Gryp die uitdagings aan, lui die positiewe boodskap van ons leiers.

Te midde van die talle uitdagings waarvoor ons vandag te staan gekom het, is die stryd om idees een van ons grootste uitdagings. Om dit tot ’n enkele vraag in te kort: Hoe antwoord Afrikaners op die ideologiese ‘goed versus kwaad’-skema wat op ons leiers en ons geskiedenis oorgedra word? ’n Geloofwaardige antwoord (wat histories, rasioneel en eties goed begrond is) is vir ons as selfrespekterende kultuurgemeenskap lewensnoodsaaklik.

PIERNEEF-UITSTALLING

Jacob Hendrik Pierneef was ’n bekende Suid-Afrikaanse landskapskunstenaar wat beskou word as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters.

Pierneef het sy eerste kunsklasse saam met toekomstige kunstenaars Cordon Leith en Fanie Eloff by die Hoër Staatsmodelschool in Pretoria bygewoon. Daar het sy onderwyser JF Hondius sy voorliefde vir die platteland aangemoedig, terwyl ’n ander onderwyser, dr. HG Breyer, sy leerlinge die veld ingeneem het om hulle van natuurwetenskappe te leer. Met sy gesin se terugkeer na Nederland het hy oorspronklik deeltyds in ’n verffabriek gewerk en snags tekenlesse by ’n ou argitek ontvang. In die fabriek het hy geleer hoe om verskillende soorte verf te meng en aan te wend. Met hulle verhuising na Rotterdam, het hy aan die Rotterdamse Kunsakademie studeer waar hy kennis gemaak het met die werke van die ou meesters. Met sy terugkeer na Pretoria, Suid-Afrika, het Pierneef kunstegnieke onder gevestigde kunstenaars geleer, onder meer sy peet-oom Anton van Wouw, asook Hugo Naudé, Frans Oerder en George Smithard. Sy eerste openbare uitstalling was in 1902 saam met Van Wouw en Naudé.

Na verskeie uitstallings het Pierneef as kunsdosent by die Pretoria Kollege gewerk. Dit het hom in staat gestel om op kuns te fokus en in 1920 en 1921 het hy aan baie solo- en groepuitstallings deelgeneem. Een daarvan was ’n belangrike uitstalling in Pretoria waar hy meer as 300 werke in verskeie mediums uitgestal het. Hy het in 1923 as kunsdosent bedank weens meningsverskille met die Onderwysdepartement oor die skoolkurrikulum. Dit was op die Engelse stelsel gebaseer maar hy het gevoel dat Suid-Afrikaanse kunstenaars hul eie styl moes hê. Hy het toe voltyds geverf. Tussen 1923 en 1924 het hy Suidwes-Afrika (Namibië) besoek waar hy talle sketse gemaak het wat hy later geskilder het – dié word dikwels onder sy beste werk gereken.

Hoewel kritici sy werk goed ontvang het, was hy nie finansieel suksesvol nie. Hy en sy vrou het Europa van 1925 tot 1926 besoek waar hy die nuutste kunsbewegings bestudeer het, insluitend impressionistiese en moderne kunste. In 1927 het hy ’n baie suksesvolle uitstalling van 86 van sy werke in Pretoria gehou. Hoewel sy werk as impressionisties beskou kon word, het hy nie regtig op indrukke en optiese verskynsels gekonsentreer nie, maar eerder die Suid-Afrikaanse landskap in ’n logies geordende en geometriese komposisie geabstrakteer. Pierneef se werk was ook nooit werklik abstrak nie, maar hy het meer op die dekoratiewe moontlikhede van geometriese vorme gekonsentreer.

Pierneef se kleurpalet het hoofsaaklik uit sonverbleikte pastelkleure soos sagte bloue, okers en pienk bestaan hoewel hy soms ook helder kleure soos blou, perse en oranje gebruik het. Hy het landskappe van verskillende dele van Suid-Afrika geskilder, maar hy was meer vertroud met die Transvaalse Bosveld. Die skilderye wat in hierdie deel van die land uitgevoer is, word as van sy beste werke beskou.

Die versameling werke van Pierneef word vir uitstalling deur Sonop Koshuis beskikbaar gestel. Hierdie uitstalling is te sien op die eerste vloer van die Erfenissentrum van Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 16:00.