ERFENISTERREINE

KAREL LANDMAN-MONUMENT (ALEXANDRIA, PORT ELIZABETH)

OOS-KAAP

Die Voortrekker Karel Landman was tweede in bevel tydens die Slag van Bloedrivier (16 Desember 1838). ’n Monument ter ere van hom is naby Alexandria in die Oos-Kaapprovinsie opgerig, die gebied waarvandaan hy oorspronklik getrek het. In 2012 is die monument deur die Karel Landman Voortrekkermonumentkomitee aan die Erfenisstigting oorgedra.

S 33°34.42 O 26°09.43

KERKENBERG

KWAZULU-NATAL

Tydens die trek na Natal het die Voortrekkers hier uitgespan terwyl hulle op nuus van hul leier, Piet Retief, gewag het. Die naam Kerkenberg kom van die feit dat eerw. Erasmus Smit eredienste tussen die twee rotse gelei het. Debora Retief het op haar vader, Piet Retief se verjaarsdag die datum, 12 November 1837 teen die rots geverf. Hierdie datum is vandag steeds sigbaar.

S 28°30’19.7O 29°06’34.7

KAALVOETVROUMONUMENT

KWAZULU-NATAL

Die beeld van die Kaalvoetvrou is opgerig ter herinnering aan die dapper Voortrekkervroue van Pietermaritzburg wat na die Britse anneksasie van Natal (1842) gesê het dat hulle eerder “kaalvoet oor die berge sal terugstap as om weer onder Britse beheer te leef”. Vanaf hierdie terrein kan besoekers ook die Blye Vooruitsig-toneel sien wat die Voortrekkers gesien het nadat hulle vanaf Kerkenberg vertrek het. Dit is ook die roete wat Retief se geselskap gebruik het om by die Drakensberg af te trek na die streek wat later die Republiek van Natalia sou word.

S 29°08.577 O 28°33.199

BLOUKRANSMONUMENT

KWAZULU-NATAL

Gedurende die nag van 16 op 17 Februarie 1838 is die Voortrekkerlaers aan die oewer van die Bloukransrivier in KwaZulu-Natal deur ’n Zoeloemag aangeval en feitlik heeltemal uitgewis. Hierdie aangrypende gebeure word herdenk deur ’n marmermonument op die terrein waar die slagoffers almal saam in ’n massagraf begrawe is. Voortrekkerleier Gert Maritz se graf vorm ook ’n deel van die monument. Die gebied rondom die monument, wat voorheen aan die Natalse NG Kerk behoort het, is in 2004 aan die Erfenisstigting oorgedra.

S 28°51’1.94 O 29°50’34.43

KROONSTAD-KONSENTRASIEKAMPKERKHOF

VRYSTAAD

Kroonstad se konsentrasiekamp was een van elf Vrystaatse kampe tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). Generaal Kelly-Kenny het op 7 September 1900 voorgestel dat ’n konsentrasiekamp in Kroonstad gevestig moet word en teen 24 November 1900 het die kamp beslis reeds bestaan. Teen Maart 1901 was die Kroonstad-kamp al relatief groot, met ’n inwonertal van ongeveer 2 500. Na beraming is 1 268 mense in die tydperk April 1901 tot April 1902 in die Kroonstadse kamp oorlede. Kroonstad se konsentrasiekamp is eers amptelik op 12 Januarie 1903 gesluit en die laaste inwoners het uiteindelik op 4 Februarie 1903 die kamp ontruim.

S 27°40’17.82, O 27°12’22.81

MAFIKENG-KONSENTRASIEKAMPKERKHOF

NOORD-WES

Die Erfenisstigting neem in 2007 die eienaarskap van die twee konsentrasiekampkerkhowe van die NG Kerk te Mahikeng oor. Die konsentrasiekamp by Mahikeng, opgerig tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902), was naby die Moloporivier. Die groot begraafplaas bevat 825 gemerkte grafte en is in ’n goeie toestand. Dit bevat ook die oorskot van 33 burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog met die beleg van Mahikeng gesneuwel het en voorheen op verskeie plekke begrawe was. Verskeie gedenknaalde is op die terrein opgerig, asook ’n gedenkmuur met die name van die gestorwenes. Die kleiner een het ongeveer 200 grafte en is in die middel van ’n plaaslike woongebied geleë.

S 25°52’49.58 O 25°36’27.48

BOEKENHOUTFONTEIN-ERFENISTERREIN

NOORD-WES

Lede van die bestuurspan van die Erfenisstigting is sedert 2011 trustees van die President Paul Kruger Trust. Die trust het dit ten doel om Boekenhoutfontein net buite Rustenburg, die plaas van pres. Paul Kruger sedert die 1860’s, in samewerking met die eienaars van die terrein, die Kedar Country Lodge, te bewaar en te bestuur. In 2014 het die Erfenisstigting die plafon van die hoofhuis herstel. Die Erfenisstigting het ook in 2012 die eerste Paul Krugerfees op die terrein gereël, maar het sedertdien die funksie aan die Rapportryerskorps te Rustenburg oorgedra.

S 25°33.397 O 27°07.303

DANIE THERON-GEDENKSUIL

GAUTENG

Die Danie Theron-gedenksuil is opgerig in Gatsrand op Theronskop, op die terrein waar die beroemde Boereverkenner tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) doodgeskiet is. Die terrein is in 2003 deur die Voortrekkerjeugbeweging aan die Erfenisstigting geskenk. Die Erfenisstigting het ’n bestuursooreenkoms met die nabygeleë Anglo Gold Ashanti-myn aangegaan wat verantwoordelikheid vir die instandhouding van die pad, asook die gereelde skoonmaak van die terrein aanvaar het. Dit gedenk die heldedade van die baasverkenner Danie Theron tydens die Anglo-Boereoorlog. Die monument staan ongeveer 50 meter van die plek waar Theron op 5 September 1900 gesneuwel het.

S 26°27’06, O 27°26’14

OSSEWABRANDWAG ERE-AKKER

GAUTENG

Die ES het in 2012 eienaarskap geneem van die Ere-Akker, wat 99 grafte bevat (o.a. dié van die Ossewabrandwag-leier, JF van Rensburg en JC Neethling, die eerste eggenoot van die legendariese aktrise Anna Neethling-Pohl). Die Ossewabrandwag is op 4 Februarie 1939 in Bloemfontein as ’n kultuurorganisasie gestig – ’n direkte uitvloeisel van die oplewing van Afrikanernasionalisme na die Simboliese Ossewatrek van 1938. Die liggaam was sterk gekant teen Suid-Afrika se betrokkenheid by die Tweede Wêreldoorlog.

S 25°51’51.55 O 28°10.25.15

LOUIS TREGARDT-GEDENKTUIN

MAPUTO, MOSAMBIEK

Die Louis Tregardt-gedenktuin in Maputo, Mosambiek, bevat onder adere die grafte van die Voortrekkerleier Louis Tregardt, sy vrou Martha en agtien lede van die trekgeselskap wat in 1836 aan malaria oorlede is. Die gedenktuin is in Maart 2022 deur ’n span van die Erfenisstigting, Voortrekkermonument en FAK besoek om nodige herstelwerk te verrig. Om die monument te besoek, is gratis en beslis die moeite werd om deel te maak van die roete wanneer die volgende Mosambiek-vakansie beplan word.

S 25°58’05.70 O 32°34’16.10