“By die Erfenisstigting vertel ons stories.” So vertel Petra Luus, museumkurator by die Erfenisstigting (ES), toe sy vanjaar die splinternuwe Argief-Wisseluitstalling by die ES-kantore op die Voortrekkermonumentterrein geopen het.
Die Erfenisstigting is in 2002 gestig en sedertdien het hulle bekend geword as ’n voorloper in die bewaring van erfenis.
“Die Erfenisstigting is die versamelpunt van die Afrikaner se nalatenskap vir die volgende geslag; ons doen meer as bewaring, ons bou ook voort op die geskiedenis deur die stories wat ons met ons werk vertel.”
Die ES se argief is die tuiste van duisende stories uit die Afrikaner se geskiedenis en daarom is daar vanjaar besluit om die eerste Argief-Wisseluitstalling, Tussen kerk en oorlog: Die Burgers van Middelburg, op die been te bring.
Hierdie uitstalling is op Maandag 17 Junie vanjaar geopen en kan vir die volgende twee maande besoek word. Besoektye is Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 16:00.
Die uitstalling neem besoekers op die lewensreis van Alewyn Petrus Burger en Adriana Petronella Geertruida (Janie) Burger (née Boshoff). Alewyn Burger het vanaf 1884 as ’n predikant by die gemeente Nazareth (later Middelburg) gewerk en vir 44 jaar in die gemeente bedien.
Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was hy vir meer as twee jaar as kapelaan met die Middelburg-kommando in die veld. Hy is op 20 Februarie 1902 gevange geneem en na Indië gestuur waar hy in die Bhim-Tal-krygsgevangenekamp aan die voet van die Himalajas aangehou is. Sy vrou Jana en ses kinders is na die Howick-konsentrasiekamp te Durban gestuur waar hulle tot na die oorlog aangehou is. Die uitstalling bevat ook die korrespondensie tussen die egpaar en gesin tydens die oorlog, sowel as ’n brief wat Jana aan Emily Hobhouse geskryf het rakende die toestande in die Howick-konsentrasiekamp.
Na die oorlog het Alewyn en Jana Burger hulle aan die opheffing van die verarmde gemeenskap gewy. Ds. Alewyn Burger is op 10 Mei 1937 in Middelburg oorlede.
Die dokumente besit waardevolle inligting vir navorsers wat betref genealogie van die Burger-familie, die krygsgevangenekamp Bhim-Tal, die Howick-konsentrasiekamp, asook die kerklike ontwikkeling en geskiedenis van Middelburg, Transvaal, rondom die einde van die 19de tot vroeë 20ste eeu.
By die Erfenissentrum het gewilde uitstallings, soos Afrikaners in die 20ste eeu: baanbrekers, bakens en brûe – Poskaartflitse uit die geskiedenis (2008), die Monumentaliteit-uitstalling (2014), Staatsteater-uitstalling (2016), die 1942-Afrikaners-uitstalling (2021) en meer onlangse Pierneef-uitstalling (2022), deur die jare die besonderse verhaal van die Afrikaner vertel en gesorg dat hierdie geskiedenis vir jare behoue kon bly. Verlede jaar (2023) het die ES ook die eerste museumteater in die Suidelike Halfrond, die Toekomsbou-museumteater, die lug laat sien en vanjaar skop die nuwe Argief-Wisseluitstalling die nuwe hoofstuk by die Erfenisstigting af.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenissentrum, sê dié uitstalling gee ’n unieke blik op die geskiedenis en laat besoekers toe om toegang te kry tot bronne wat andersins nooit vir die publiek beskikbaar kon wees nie.
“Hierdie uitstalling is besonders omdat hierdie argivale materiaal vir die navorser en belangstellende dieper insig bied rakende die omstandighede tydens die Anglo-Boereoorlog, maar ook die genealogiese geskiedenis van die Burgers van Middelburg. Die Erfenisstigting se argief as bewaringsruimte het verskeie stories om te vertel, en hierdie primêre bronne is van onskatbare waarde vir die navorser,” vertel Jansen.
“Hier is ongelooflike waardevolle historiese skatte in die ES-argief en nou het ons ook die geleentheid om dít met die wêreld te deel.”