AFRIKANER-NAVORSINGSBIBLIOTEEK

Die biblioteek van die Erfenisstigting het in 2001 begin toe die Hertzog Trust-versameling op bruikleen by die Voortrekkermonument aangekom het. Op daardie stadium was die administratiewe en vakkundige personeel nog in die huis op die gronde gehuisves. Van daardie oomblik af het mev. Estelle Pretorius (die eerste bibliotekaris) aktief begin om ’n biblioteek op die been te bring.

Die Afrikanernavorsingsbiblioteek is in die Erfenissentrum geleë en kan besoek word Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 16:00, en elke tweede saterdag van die maand (Februarie tot November) tussen 08:00 en 13:00.

Toe die biblioteek in 2008 na die Erfenissentrum verhuis het, het die biblioteek dadelik hordes skenkings ontvang van weldoeners en vanaf die Gautengse biblioteekdienste af. Die biblioteek se versameling het begin om geskiedkundige temas te versamel soos die Groot Trek, Die Rebellie van 1914–1915, die Voortrekker-monument en die Afrikanerrepublieke, om net ’n paar te noem. Die versameling het uitgebrei na die geskiedkundige waarde agter die Afrikanererfenisterreine soos dié van Bloedrivier, Vegkop, Slagtersnek ens. Inligting oor bekende Afrikanerfigure, byvoorbeeld Koos de la Rey en Paul Kruger, word versamel saam met Groot Trek-helde soos Andries Pretorius en nog vele meer.

Indien die geskiedenis van erfenisterreine en helde nie genoeg is nie, versamel die biblioteek ook temas soos die ontstaan van dorpe en stede binne die Republiek asook temas rakende die kultuur, musiek, taal en literatuur van die Afrikaner. Omdat dit die Erfenissentrum se beleid is om net Afrikanergeskiedenistemas te versamel, versamel die biblioteek net kuns en letterkunde wat groot waarde tot die Afrikanerontwikkeling bygedra het.

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika se Noord-Gauteng-tak huisves hulle hele versameling boeke by hierdie biblioteek. Dit dien as groot trekpleister vir genealoë, navorsers en enigeen wat graag sy familiegeskiedenis wil naspoor.

Terwyl die Erfenissentrum trots kan voel oor haar boekversameling, kan sy ook spog met ’n groot versameling tydskrifte, waaronder Die Ster, Panorama, Huisgenoot en Die Jongmens, om net enkeles te noem. Saam met die tydskrifte, huisves die biblioteek ook ’n versameling staatskoerante en -debatte, ook wat uit die era van Natalia, Transvaal, Oranje-Vrystaat en die Kaapkolonie dateer.

Die biblioteek mag dalk begin het met die Hertzog-versameling, maar dié het gegroei om uiteindelik ’n navorsingsentrum te skep vir enige iemand wat meer oor sy of haar geskiedenis wil leer en ook om ’n veilige hawe te skep vir die Afrikanerverhaal.

NAGRAAG OOR BRONNE

Om navraag te doen oor beskikbare bronne, kontak vir Lizette by lizette@kultuurtuiste.org.za