Drie stoele, drie eras en honderde verhale … “Dit is die mooi van geskiedenis.”
Naomi Pretorius (80) is ’n afgetrede geskiedenisonderwyser en taalkundige wat deur haar lang leeftyd al hordes stories vertel het van die Afrikaner en waar hulle vandaan kom, en nóú kan hierdie stories voortleef by die Voortrekkermonument (VTM) na sy hier kom aanklop het met ’n baie kosbare skenking van drie stoele, wat oor jare heen die Afrikaner se geskiedenisstorie vertel.
Pretorius het vir 50 jaar skoolgegee en by Potchefstroom Gimnasium afgetree. Sy het ook Afrikatale (Noord-Sotho, Tswana en Zoeloe, waarin sy vir al drie tale ’n honneurs verwerf het) aangebied.
Die Erfenisstigting (ES) by die VTM huisves die monument se museumstoor waar daar allerhande waardevolle items uit die geskiedenis lê, maar min hiervan is so uniek en outentiek soos die drie stoele wat Pretorius vandeesweek by die VTM kom aflaai het.
Pretorius bly tans in Potchefstroom in “’n huis vol goed,” met 25 aptekerswese- en ingenieurstudente wat by haar bly en het besluit dit is tyd om bietjie spasie in haar huis te maak.
Sy het die naweek spesiaal deurgery om haar kleinkinders se musiekkonserte by te woon en het besef dit is ’n gulde geleentheid om die skenking by die VTM te kom aflaai.
Die mees waardevolle stoel uit Pretorius se versameling is ’n ou riempiesstoel uit die Groot Trek wat dateer uit 1834. Pretorius het dié stoel jare gelede by ’n tannie in Warmbad (vandag Bela-Bela) gekoop.
“Die stoel is nie ’n erfstuk nie, dis ’n liefdesstuk wat ek vir myself aangeskaf het in Warmbad,” sê Pretorius.
“My broers het my vertel van die tannie met die mooi oudhede wat graag ouetehuis toe wou trek en toe ek daar aankom, het ek amper flou geword toe ek al hierdie wonderlike goed sien.”
Dié stoel, vertel sy is die tipiese stoel waarin ma’s sou sit om die kinders te bad.
“Dié stoel is vir my die kosbaarste,” beduie sy terwyl sy op die Groot Trek-troon sit en stories vertel. “In hierdie stoel sou die vroue gesit het en die babatjies gebad het.”
Op die voetleuning van die stoel sien mens duidelik die verwering soos ’n Afrikanervrou se spore deur die jare die hout verweer het en die pote is vlakker om aan te pas by die omgewing in die “Sandveld (Knersveldvlakte).”
“Haar voete was altyd hier, mens kan sien hoe sy die hout weggetrap het.”
Die tweede stoel wat deel uitmaak van die skenking, vertel Pretorius is ’n stoel uit Koffiefontein se interneringskamp waar manne in die Tweede Wêreldoorlog was. Op die rug van die stoel is twee voorletters “JD” en “HD” ingeëts.
“Die kinders van vandag stel nie noodwendig belang in antieke goed nie, hulle leer ook nie meer ons geskiedenis nie, so toe het ek besluit ‘nee dis te kosbaar’ en besef ek kan dit liewer vir julle (die VTM) gee.”
Die derde stoeltjie is uit geelhout gemaak; ’n klein oopvou-riempiesstoel wat in ’n ossewa gebruik sou word.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, sê hierdie skenking is een van die waardevolste skenkings wat sy al ooit in ontvangs geneem het.
“Ons kry nie dikwels hierdie tipe skenking nie, wat op sigself dit baie spesiaal maak, maar om iemand soos Tannie Naomi te kon ontmoet, is amper meer waardevol. Dit is werklik inspirerend om te weet dat sy, wat so passievol oor haar taal en geskiedenis is, vir so lank die jongmense geslyp het en dít gee mens baie hoop.”