Die Erfenisstigting is nou die trotse bewaarders van fotorame wat meer as 120 jaar oud is.

Marietjie (75) en Dawie (82) Mostert het twee baie besondere skenkings aan die Erfenisstigting gemaak.

Twee pragtige fotorame wat in die krygsgevangenekamp in Ceylon (nou Sri Lanka) met ’n knipmes gekerf is, is deur mev. Mostert geskenk. Sy het die fotorame, saam met die familiefoto’s wat steeds daarin pronk, by haar ma, Josina Jordaan (née Swanevelder) geërf.

Jongmense van vandag verstaan nie altyd die waarde van die erfstukke van hul ouers nie en dit is daarom dat hierdie items aan die Erfenisstigting geskenk is.

“Aan die een kant is ek hartseer, maar aan die ander kant is ek bly, want nou weet ek dit bly behoue,” vertel mev. Mostert.

Jordaan se oupa, Carel Swanevelder, is in die krygsgevangenekamp aangehou.

Verder het mev. Mostert ook die Voortrekkerkappie wat haar moeder, Josina, by die inhuldiging van die Voortrekkermonument in 1949 gedra het aan die ES geskenk.

Mostert se familie het diep spore getrap in die Afrikaner se geskiedenis en daarom is dit ’n voorreg vir die Erfenisstigting om die bewaarders van haar voorouers se skatte te kan wees.

Die kappie lyk nog splinternuut en die ES bedank die Mostert-egpaar vir dié wonderlike skenking.

Soveel van die geskiedenis gaan verlore en moet juis bewaar word vir die volgende geslagte.