Vandag nog ontlok die blote noem van die naam Ossewabrandwag (OB) uiteenlopende menings. Daar is heelwat wanpersepsies oor die beweging wat meestal uit onkunde of vooroordeel spruit. Die OB is vergelyk met die Europese fascistiese bewegings van die 1930’s en 1940’s en van Nazisme beskuldig. Dit is ook al as ’n ondergrondse terroristebeweging beskryf. Selfs die wortels van apartheid is in die beweging gesoek.

Dit is grootliks vergete dat die OB in die vroeë 1940’s op die hoogtepunt van sy gewildheid waarskynlik nie sy gelyke in die Afrikanergeskiedenis het nie. Met meer as 300 000 lede was die beweging die grootste van sy soort in die geskiedenis van die Afrikaner.

Die OB is in 1939 aanvanklik as ’n kultuurorganisasie (met ’n mans-, vroue- en jeugafdeling) gestig, maar het onder sy charismatiese leier Hans van Rensburg algaande in die troebel oorlogsjare verpolitiseer toe daar ’n genadelose stryd om beheer van die Afrikanersiel was.

Hoewel die beweging ’n eiesoortige nasionaal-sosialisme aangehang het, was die hoofdryfveer altyd Afrikanernasionalisme en die vestiging van ’n republiek – wat as geregverdigde strewes in die stryd teen Britse oorheersing beskou is. In die naweё van die lyding en smart van die Anglo-Boereoorlog, asook die ontnugtering van die Rebellie, was die OB die Duitsers goedgesind en die Britte vyandiggesind gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die grondslag daarvan was eerder ’n anti-Britse as dié van ’n pro-Nazi-gesindheid.

Afrikaners self was gedurende die Tweede Wêreldoorlog meer verdeeld en onderlinge verbittering was groter as ooit tevore. Die OB was vasgevang in daardie interne konflik en moes die stryd boonop op twee fronte stry – aan die een kant teen die destydse Nasionale Party en aan die ander kant teen die Smuts-regering wat besluit het om Brittanje se oorlogspoging aktief te steun. Op die lange duur sou die OB, met sy soms volksvreemde ideologiese beginsels, nie teen al die aanslae bestand wees nie.

Benewens al die vooroordele was daar die realiteit dat daar ’n kleiner aktivistiese groep, die Stormjaers, binne die OB ontstaan het. Die Stormjaers het hulle tot sabotasie gewend, terwyl die oorgrote ledetal van die OB teen enige vorm van geweld gekant was. Hoewel die Stormjaers afsonderlik gefunksioneer het, word hul sabotasiedade dikwels verkeerdelik aan die OB toegeskryf.

In ’n landwye vlaag van sabotasie is plofstof onwettig vervaardig, strategiese instellings opgeblaas en verbindingslyne asook kragdrade en -stasies op groot skaal vernietig, terwyl gewaagde inbrake en rooftogte uitgevoer is. Daar was skakeling met Nazi-Duitsland en ’n doelgerigte poging om die Geallieerde skeepvaart te stuit. Daar was ook gewelddadige vergelding vir talle wat as afvalliges van die Afrikanersaak beskou is. Sluipmoorde is beplan en enkeles is uitgevoer.

Op sy beurt het die Smuts-regering duisende Afrikaners wat van ondermynende optrede verdink is (soms ongegrond), in die land in interneringskampe, op verskillende plekke, aangehou en honderde sonder verhoor in tronke.

Die OB se skouspelagtige opgang en indrukwekkende opbloei in sy beginjare staan in skrille kontras met sy roemlose einde aan die begin van die 1950’s. Sy nalatenskap om ’n nasionalistiese en republikeinse geesdrif onder Afrikaners te help skep, was egter aansienlik.