MUSEUMKUNDE

Die museumdienste van die Erfenisstigting is verantwoordelik vir die insameling, versorging en uitstalling van museumvoorwerpe van die Voortrekkermonumentterrein, sowel as die Bloedrivierterrein. Op die Voortrekkermonumentterrein is daar voorwerpe op uitstalling binne die Voortrekkermonument, die Erfenissentrum, die Pioniersentrum en Fort Schanskop. Binne-in die Erfenissentrum is daar ook ’n museumstoor waar erfenisskatte bewaar word. Die ruimte waarin die voorwerpe gestoor en uitgestal word, moet aan internasionale museumstandaarde voldoen en ’n sekere temperatuur en humiditeit gehandhaaf word. Bewaring is ’n uiters belangrike funksie van die museumdienste, waar hierdie voorwerpe vir toekomstige geslagte behoue bly.

Die museumversameling bestaan uit voorwerpe wat dateer uit die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog en pionierstydperk. Daar is ook heelwat memorabilia wat verband hou met die Voortrekkermonument se hoeksteenlegging tydens die 1938-Simboliese Ossewatrek, asook die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Behalwe vir die voorwerpe wat die Erfenisstigting en Voortrekkermonument besit, is daar ook bruikleenooreenkomste met ander instansies om na hulle skatte om te sien. Dit sluit kunsvoorwerpe in soos Pierneef-skilderye en beelde van Anton van Wouw en Phil Minnaar.

Die Erfenisstigting werk ook dikwels saam met ander Afrikanermuseums om voorwerpe op bruikleen beskikbaar te stel vir ’n tydperk en uitstallings in te rig. Wanneer spesiale uitstallings ingerig word wat nie uit die bostaande tydperke dateer nie, word ’n spesiale versameling daargestel. Navorsing word voltooi om die konteks van die voorwerpe en boodskap wat vertolk word deur die uitstalling daar te stel.

Die museumdienste het ’n opvoedkundige verantwoordelikheid om die besoeker se nuuskierigheid te stimuleer, om inligting toeganklik te maak, en om gemeentskappe te help om standpunte te formuleer oor ’n onderwerp deur interpretasie en vasstelling van konteks vir elke versameling wat op uitstalling geplaas word.