“Wanneer mens praat van sterk Afrikanervroue, dan word daar baie name genoem en êrens in dié lys sal mens die naam van Mabel Jansen hoor.” Só vertel dr. Rentia Landman, verteenwoordiger van die Voortrekkermonument (VTM) se vakkundige komitee, wat gisteraand (15 Augustus) ’n praatjie oor dié formidabele vrou in die monument se Senotaafsaal aangebied het.
“Mabel Jansen was die eggenote van dr. EG Jansen, die eerste voorsitter van die Volksmonumentekomitee en die raad van die VTM, maar haar eie nalatenskap strek veel dieper.”
Jansen het ’n deurslaggewende rol gespeel in die stigting van die Volksmonumentekomitee en uiteindelik ook die bou van die monument.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, wat hierdie praatjie, as deel van die Moerdijk-gedenklesing aangebied het, sê die doel van hierdie lesings is om die lewe van Gerard Moerdijk, die argitek van die monument, en ander belangrike mense in die geskiedenis van die VTM te huldig.
“Dit is die tweede Moerdijk-gedenklesing wat ons vanjaar aanbied,” sê Jansen.
Lees meer oor die eerste Moerdijk-gedenklesing: https://www.facebook.com/Voortrekkermonument/posts/pfbid02FVLrdiWsjpV1zoDNWHuoVabUL8Gc5xHmq22zWJh3eWw1o734tFKxQVp9PjoWgPbMl
“Hierdie gesprekke is nie net ’n interessante brokkie uit die verlede nie, maar ’n manier om die helde uit ons verlede te onthou en voort te bou op hul nalatenskap.”
Landman se gesprek, “Mabel Jansen; ’n sterk vrou voordat die Afrikanervrou haar openbare selfvertroue verloor het,” het gefokus op die lewe en nalatenskap van Jansen, maar ook die belangrike vraag daargestel: “Waar is die sterk Afrikanervrou van vandag en van die toekoms.”
Dié vraag is na Landman se uitstekende vertelling herhaal deur dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM, wat ten slotte gesê het dié vroue is tussen ons. “Toe ek jonger was, het ek altyd ’n lys van tien vroue gehad wat ek beskou het as sterk Afrikanervroue en eendag toe ek dié lys aan iemand oordra en daar met skeptisisme na my gekyk word, toe besef ek net weer die sterk Afrikanervrou is tussen ons. Dis die vroue wat saam met ons werk en leef,” sê Langner.
Langner het voorts gesê dat hierdie vroue hul plek in die samelewing moet volstaan. “Ons het meer sterk vroueorganisasies nodig en ons het meer sterk vroue in organisasies nodig.”
Jansen se kleindogter, adv. Mabel Jansen, voormalige regter in die Hooggeregshof van Gauteng, het ook die verrigtinge bygewoon en sê haar ouma was ’n inspirerende vrou wat haar plek in ’n sogenaamde manswêreld volgestaan het, tog vertel sy was die liefde wat haar ouma gehad het vir haar man en haar familie die mees inspirerende deel van haar nalatenskap.
Hierdie liefde, deernis, passie en karakter is waarvoor elke Afrikanervrou uit die verlede, en vandag steeds geken word.