Ná verskeie publikasieprobeerslae oor bykans ’n eeu is die eerste omvattende geskiedeniswerk oor die Suid-Afrikaanse kommandostelsel uiteindelik bekendgestel.

Die bekendstelling van dr. Gerhard Kamffer se nuwe boek, Die geskiedenis van die kommando’s: 1715–2003, is op Saterdag 14 Junie by die FAK-Lapa aan die voet van die Voortrekkermonument gehou – die perfekte plek vir ’n verhaal wat só diep met die Afrikaner se militêre en kulturele erfenis verweef is.

Dié besonderse boek bied ’n baanbrekersblik op byna 300 jaar van die kommando’s; hul ontstaan, rol en bydrae tot Suid-Afrika se geskiedenislandskap. Wat die bekendstelling van die boek selfs nog meer betekenisvol maak, is die feit dat die boek in die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal in Afrikaans gepubliseer is.

“Tot nou toe nog kon niemand die geskiedenis van die kommando’s in soveel detail neerpen nie. Van 1938 af is hierdie omvattende geskiedenis nog nooit te boek gestel nie,” sê Kamffer. “Die belangrikheid hiervan lê in die feit dat die kommandostelsel ’n absoluut unieke stelsel is. Dit is eie aan Suid-Afrika se krygsgeskiedenis en daar is nie nog só ’n stelsel ter wêreld nie.”

Kamffer het 50 jaar diens as reserweoffisier en bevelvoerder in die kommando’s gedoen.

Dr. Gerhard Kamffer vertel van die opwindende reis wat hy ervaar het met die skryf van sy boek. (Foto: Niël Langner)

Die geskiedenis van die kommando’s dek nie net die bekende geskiedenis van die kommando’s in die Kaapkolonie en die Boererepublieke nie, maar fokus veral op die skaars gedokumenteerde tydperk ná Uniewording in 1910 tot met die ontbinding van die stelsel in 2009. Kamffer se navorsing is deursigtig en brongebaseer. “Enigiemand kan die bronne naspeur en byvoorbeeld gaan kyk waar sy of haar oupa in die destydse Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) betrokke was,” sê hy.

Kamffer, wat in 1998 sy doktorsgraad aan die Noordwes-Universiteit behaal het, se vorige werk sluit in Die geheime diens in die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1894-1900.

Volgens Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting (ES), is die boek ’n monument op sigself. “Hierdie boek staan as beide ’n missie voltooi en ’n nalatenskap vervul. Mag die bladsye die opoffering, diens en krag eer wat dit geverg het om dit lewend te maak.”

Lizette Jansen, ES-bestuurder, sê wat Kamffer met hierdie boek bereik het, is voorwaar besonders. “Dit maak ’n gedeelte van ons geskiedenis toeganklik vir enigiemand wat meer te wete wil kom of verdere geskiedskrywing daaroor wil doen.

Dr. Gerhard Kamffer, skrywer van die boek Die geskiedenis van die kommando’s: 1715–2003, en Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting. (Foto: Niël Langner)

“Dit is hoekom die ES-Navorsingstrust en EBO Trust geld beskikbaar gestel het sodat die boek vanjaar die lig kon sien. Dit is boonop baie spesiaal om die boek by die Voortrekkermonument bekend te kon stel,” sê Jansen.

Ná die boekbekendstelling het Kamffer opgemerk dat dit alles die moeite werd was. “Daar is ’n historiese bewustheid van ons verlede – dat ons dit moet bewaar en koester, en dat ons daaruit moet leer vir die toekoms.”