Die Erfenisstigting (ES) het die afgelope week ’n splinternuwe argivale wisseluitstalling in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument bekendgestel, getiteld Illustrasies en uitbeeldings van Paul Kruger. Dié besonderse uitstalling vorm deel van ’n maand lange viering van die 200ste herdenking van Kruger se geboorte op 10 Oktober 1825 en belig die vele maniere waarop die voormalige president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) deur die geskiedenis uitgebeeld is.
“Benewens die uitbeelding van Kruger as 11-jarige seuntjie in die Slag van Vegkop-marmerfries in die Heldesaal asook sy sterftekamer wat in die Kruger-galery by die Monument te sien is, wys hierdie uitstalling nóg ’n faset van die man wat nie net ’n boer, soldaat en president was nie, maar ook drome gedroom en ’n visie vir die Afrikanervolk gehad het,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die ES.
Veelkantige leier
Paul Kruger (1825–1904), ook bekend as Oom Paul, is een van die mees herkenbare figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy is deur die jare op uiteenlopende maniere uitgebeeld – van amptelike portrette en kunswerke tot spotprente en kontemporêre voorwerpe.
Die spesiale Kruger-uitstalling fokus op hierdie verskeidenheid en Kruger se veelkantigheid, en kombineer materiaal uit die ES se argief en museumversameling, asook afdrukke van spotprente uit die Afrikaner Navorsingsbiblioteek.
Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is spotprente en karikature oor die oorlog in verskeie koerante in verskillende lande gepubliseer. Sommige lande het hulle by die ZAR (Transvaal) en Kruger geskaar, en ander nie. Besoekers kan selfs sien hoe Kruger deur Frankryk uitgebeeld is met afdrukke van die voorblaaie van Le Petit Journal (19 November 1899) en L’illustration (1 Desember 1900).
Mens agter die president
Die uitstalling bevat voorts afdrukke van kunswerke van Kruger wat vergelyk kan word met foto’s uit die argief. Van die foto’s sluit in Kruger op sy huis se stoep, in die Raadzaal op Kerkplein en aan boord van die Nederlandse skip Gelderland.
Petra Luus, argivaris van die ES, beskryf dit soos volg: “Die lens van die kamera wat Kruger in ’n oomblik vasgevang het, gee vir ons, amper twee eeue later, ’n blik op sy lewe. Die foto saam met sy vrou, Gezina, en waar hy op sy stoep sit en pyp rook, wys die mens agter die vername staatsman”.
Wanneer besoekers die uiteenlopende uitbeeldings van Kruger langs mekaar sien – van karikatuur tot kunswerk – kom verrassende teenstellings na vore. “Al lyk die uitbeeldings verskillend, weet die kyker dadelik dat dit Kruger is. Sy pluiskeil, baard en pyp maak hom onmiddellik herkenbaar,” sê Luus.
Dieper erfenisinsig
Die ES bewaar nie net Afrikaner-erfenis nie, maar maak dit op insiggewende wyses vir die algemene publiek toeganklik. “Ons argief speel ’n belangrike rol hierin. Ons interpreteer en stel historiese inhoud opvoedkundig ten toon, sodat die publiek kan sien watter versamelings vir verdere navorsing beskikbaar is.
“Ek hoop dat besoekers sal wegstap met ’n dieper insig oor Paul Kruger en die tyd waarin die Anglo-Boereoorlog afgespeel het. Die uitstalling spreek boekdele oor die persoonlikhede, verhoudings en persepsies van daardie tydgreep,” verduidelik Jansen.
- Die Paul Kruger-wisseluitstalling is tot einde November in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument te sien.