Die Erfenisstigting het op 12 Junie ’n insiggewende gespreksaand by die Voortrekkermonument gehou waartydens geskiedenis en rolprentkuns op ’n besonderse wyse ontmoet het. Die fokus het geval op die rolprent Verraaiers, geskryf en vervaardig deur die bekroonde rolprentmaker Sallas de Jager wat ook die nasionale hoof: taal, kuns en musiek van die FAK is.

Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting heet die gaste welkom. (Foto: Niël Langner)
Dié aand, in aanloop tot Konsentrasiekampdag wat op 16 Junie herdenk word, het die Anglo-Boereoorlog (ABO) in die kollig geplaas en gevra: Hoe word komplekse geskiedenis vandag verfilm en watter verantwoordelikheid rus op die skouers van die rolprentmaker?
Dit was ’n baie waardevolle aand vir akademici, navorsers, studente, geesdriftiges en almal wat in geskiedenis en die krag van storievertelling belangstel. Die geleentheid het op ’n bitterkoue wintersaand plaasgevind, maar die sop en broodjies, én die gedeelde liefde vir geskiedenis en die rolprentbedryf het die harte warm laat klop.

Akademici, navorsers, studente, geesdriftiges en almal wat in geskiedenis en die krag van storievertelling belangstel het aandagtig na die gesprek oor historiese korrektheid in films tussen professor emeritus Fransjohan Pretorius en die bekroonde rolprentmaker, Sallas de Jager geluister. (Foto: Niël Langner)
De Jager het in die Kruger-galery by die Monument in gesprek getree met die gerespekteerde historikus, professor emeritus Fransjohan Pretorius. Saam het hulle die belangrikheid van historiese korrektheid in rolprente verken en wat gebeur wanneer fiksie en feite deel van dieselfde rolverdeling is.
“’n Rolprent is nie ’n geskiedenishandboek nie, maar dit het die verantwoordelikheid om die emosionele waarheid van ’n bepaalde tydvak vas te vang,” sê De Jager. “Met Verraaiers wou ek nie net feite weergee nie, maar die morele onsekerheid en persoonlike stryd wat mense in daardie tyd beleef het, na vore bring.
Verraaiers fokus op ’n fiktiewe verhaal tydens die ABO, maar is gewortel in deeglike navorsing. “Ons stories is die goue draad wat ons geskiedenis en ons toekoms verbind. Dit is tyd dat ons dit met eerlikheid, integriteit en kulturele selfvertroue vertel,” sê De Jager.

Dit was ’n koue aand, maar die sop, gesprekke en geesdrif was vuurwarm. (Foto: Niël Langner)
Die gesprek het voorts ’n unieke blik agter die skerms van rolprentvervaardiging gebied en waarom dit belangrik is dat dié kunsvorm nie die verlede verdraai nie, maar eerbiedig.
Volgens Pretorius moet mense meer vrae begin vra. “Ons het meer mense nodig wat dink en minder wat voel. Die skeidslyn moet getref word tussen waarheid en kritiese vrae. Jy wil byvoorbeeld graag hê die kyker moet vra wat hy of sy in daardie situasie sou doen.”
De Jager het die dualisme van feit en fiksie uitgelig. “In die skryf van enige storie is daar die hoop vir subtiele manipulasie van feite om emosies los te maak. Feite het soms ’n orde wat storievertel bemoeilik. Daar is dus ’n grys gebied waar feit en fiksie paaie kruis.”

Professor emeritus Fransjohan Pretorius; Leonie Marais, bedryfshoof van die Erfenisstigting; Sallas de Jager, nasionale hoof: taal, kuns en musiek van die FAK en regisseur van die rolprent Verraaiers en Petra Luus, organiseerder van die geleentheid en argivaris van die Erfenisstigting; het gesorg vir ’n aand van heerlike samesyn en boeiende gesprekke. (Niël Langner)
“’n Mens wil ook nie die vierde muur breek vir die persoon wat regtig belangstel in die historiese waarde van die storie en die tyd waarin dit afspeel nie. As jy byvoorbeeld bekende karakters in die geskiedenis uitbeeld, wil jy nie hê iemand moet vra waar De la Rey se baard is, of dat hy beslis nie blond was nie. Die mense wie se harte ons wou roer, sou hierdie opgelet het. Ons het dus baie moeite gedoen en probeer om ongeveer vier minute se materiaal per dag te skiet,” sê De Jager.