Die Erfenisstigting hou op 12 Junie ’n insiggewende gespreksaand by die Voortrekkermonument waartydens geskiedenis en rolprentkuns op ’n besonderse wyse ontmoet. Die fokus val op die rolprent Verraaiers, geskryf en vervaardig deur die bekroonde rolprentmaker Sallas de Jager.

Dié aand, in aanloop tot Konsentrasiekampdag wat op 16 Junie herdenk word, plaas die Anglo-Boereoorlog (ABO) in die kollig en vra: Hoe word komplekse geskiedenis vandag verfilm en watter verantwoordelikheid rus op die skouers van die rolprentmaker?

De Jager tree in gesprek met die gerespekteerde historikus, professor emeritus Fransjohan Pretorius, in die Kruger-galery by die Monument. Saam verken hulle die belangrikheid van historiese korrektheid in rolprente en wat gebeur wanneer fiksie en feite deel van dieselfde rolverdeling is.

“’n Rolprent is nie ’n geskiedenishandboek nie, maar dit het die verantwoordelikheid om die emosionele waarheid van ’n bepaalde tydvak vas te vang,” sê De Jager. “Met Verraaiers wou ek nie net feite weergee nie, maar die morele onsekerheid en persoonlike stryd sigbaar maak wat mense in daardie tyd beleef het.”

Verraaiers fokus op ’n fiktiewe verhaal tydens die ABO, maar is gewortel in deeglike navorsing. “Ons stories is die goue draad wat ons geskiedenis en ons toekoms verbind. Dit is tyd dat ons dit met eerlikheid, integriteit en kulturele selfvertroue vertel,” sê De Jager.

Die gesprek bied voorts ’n unieke blik agter die skerms van rolprentvervaardiging en waarom dit belangrik is dat dié kunsvorm nie die verlede verdraai nie, maar eerbiedig. Dit is ’n waardevolle aand vir almal wat in geskiedenis en die krag van storievertelling belangstel.

Die geleentheid begin om 18:00 en die koste beloop R250 per persoon. Verversings is ingesluit. Daar is slegs enkele plekke nog beskikbaar. Bespreek vandag jóú silwerdoeksitplek deur ’n e-pos te stuur aan Petra Luus by petra@kultuurtuiste.org.za