Het jy al ooit daarvan gedroom om ’n historiese voorwerp behoorlik van nader te bekyk; ’n besonderse stuk se storie en historiese hartklop te hoor, én ’n aktiewe rol in die bewaring van só ’n erfenisskat vir die volgende geslag te speel?

Die Erfenisstigting (ES), wat in die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument gesetel is en hom sedert 2002 as maatskappy sonder winsoogmerk beywer vir die bewaring en behoud van die Afrikaner se historiese geheue, maak kosbare items in die ES-museum nou vir Jan Alleman toeganklik.

Danksy die ES se Liewe Voorwerp-projek, ’n baanbrekersprojek in Suid-Afrika, word die Stigting se museumdeure as’t ware in die kuberruim vir die publiek oopgegooi en kosbaarhede op ’n moderne en eietydse manier ontsluit. Gewapen met ’n skandeertoepassing op hul selfone, word besonderse argiefstukke en museumvoorwerpe driedimensioneel deur die ES-span vasgevang.

“Dit is ’n lang en tydrowende proses om ’n item driedimensioneel in te skandeer en só ’n digitale lêer is enorm,” vertel Monique Lubbe, kurator van die ES. “Dit is egter ’n ongelooflik voorreg om die verhaal van hierdie onvervangbare voorwerpe nou met ’n veel wyer gehoor wêreldwyd te deel.”

Die Liewe Voorwerp-span het selfs ’n stappie verder gegaan en die voorwerpe ’n stem gegee. Kristen Naude, aktrise by die ES se Museumteater, vertel die eerste voorwerp – ’n bebloede Voortrekkerkappie wat op ’n slagveld in KwaZulu-Natal opgetel is – se verhaal op ’n aangrypende manier, terwyl die kyker die kappie in die gemak van sy of haar rusbank in die rondte kan draai en van nader kan beskou. Kyk gerus hier na die kappie.

Die ES huisves benewens ’n museum ook ’n enorme argief en navorsingsbiblioteek. Volgens Lubbe word elke voorwerp in die museumversameling gedokumenteer en gedigitaliseer, wat

beteken dat daar ’n foto geneem en deeglike navorsing gedoen word. Die tweede voorwerp wat onlangs op dié manier lewe gekry het, is ’n voorlaaier. Kyk hier na die video.

Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê om historiese voorwerpe volgens regulasies te bewaar, is baie duur. Die argief se temperatuur en vogpersentasie moet gereguleer word, insekte moet uitgehou word en spesiale chemikalieë, en natuurlik heelwat tyd, word benodig om dié onvervangbare items skoon te hou, te bewaar en te restoureer.

“Enigiemand met ’n liefde vir erfenisbewaring word genooi om finansieel by te dra om te verhinder dat hierdie historiese erfenisskatte in vergetelheid verdwyn. Die publiek kry die geleentheid om eienaarskap van hul erfenis te neem deur een van die Liewe Voorwerpe ‘aan te neem’. Elke voorwerp is aan ’n betaalplatform gekoppel. Skenkers kan hul eie borgbedrag kies en met die druk van ’n knoppie ’n historiese erflating aan die volgende geslag waarborg,” sê Jansen.