Follow Us:
Facebooktwitterlinkedinyoutube

PRETORIA, 6 Februarie 2013

MEDIAVERKLARING, VIR ONMIDDELIKE VRYSTELLING

ONDERWERP: BEROEMDE STANDBEELD VIND PERMANENTE TUISTE BY  VOORTREKKERMONUMENT

Pretoria, 6 Februarie 2013: Groot opgewondenheid heers op die terrein van die Voortrekkermonument, waar ‘n reuse beeldhouwerk van die bekende beeldhouer, Danie de Jager, pas geinstalleer is en op 13 Februarie 2013 onthul word.

Die beeld, ‘In Vlug’, wat in die toekoms ‘Quo Vadis’ sal heet, was vir baie jare te sien in die voorportaal van die destydse Jan Smuts lughawe, maar is tydens die opgradering van die lughawe verwyder en gestoor. ‘n Gedeelte van die beeld is op daardie stadium deur vandale gesteel. Die brokstukke is aan die beeldhouer teruggegee. In 2012 het sy weduwee, Elsa de Jager, die stukke aan oud-minister Pik Botha geskenk. Deur sy bemiddeling is die beeld herstel en het Die Erfenisstigting gereël dat dit ‘n permanente tuiste aan die voet van die Voortrekkermonument vind.

Die beeld word op 13 Februarie 2013 tydens ‘n geselligheid onthul. Daar word heelwat verteenwoordigers van die regering asook ander meningsvormers en lede van die diplomatieke korps na die geleentheid genooi, asook verteenwoordigers van die Afrikaanse gemeenskap en ander belanghebbendes, in besonder die verskillende Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies. Volgens antwoorde wat reeds ontvang is, sal die geleentheid en onthaal deur ongeveer 200 gaste bygewoon word.

Die geleentheidstoespraak sal deur dr Theuns Eloff, Vise-kanselier van die NWU gelewer word. Die hoogtepunt van die geleentheid sal die onthulling van die beeld deur mev Elsa de Jager, weduwee van Danie de Jager, vergesel deur mnre Pik Botha en Nic Anicic (medeskenkers van die gerestoureerde beeld) wees. Die bekende Afrikaanse sangeres Arina de Witt sal die vermaak verskaf.

Uitgereik deur:

Genl-maj (Aft) GN Opperman

Besturende Direkteur

Die Erfenisstigting

Tel no:  012 325 7885

E-pos: bd@erfenisstigting.org.za
 

Share Now:
Facebooktwitterlinkedin
Ad
Ad
Ad
Ad