Follow Us:
Facebooktwitterlinkedinyoutube

MEDIAVERKLARING

VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING

 

DIE SAW MUUR VAN HERINNERING HERDENKINGSDIENS

 

Pretoria, 19 Mei 2014.Die jaarlikse herdenkingsdiens by die SA Weermag Muur van Herinnering op die Voortrekkermonument Erfenisterrein, word vanjaar op Sondag 25 Mei gehou. Die verrigtinge begin om 09h00 vir 09h30, en volgens alle aanduidings sal dit weer deur honderde belangstellendes ondersteun word.

 

Indien sekere uitstaande stappe betyds afgehandel kan word, sal die SA Weermaggedenkteken, ook bekend as die Troepiestandbeeld, wat vanaf Fort Klapperkop na die Voortrekkermonument Erfenisterrein verskuif word, sal ook by dié geleentheid onthul word. Daar sal ook ’n spesiale granietpaneel onthul word ter ere van die families, veral die vrouens en kinders, van lede van die SA Weermag wat die land tussen 1961 en 1994 gedien het.

 

Die SA Weermag Muur van Herinnering is op 25 Oktober 2009 tydens ’n onvergeetlike kransleggingsgeleentheid ingewy. Dit is bygewoon deur talle naasbestaandes van persone wat hul lewens verloor het gedurende die tydperk 31 Mei 1961 (Republiekwording) en 27 April 1994 (die datum waarop die SA Weermag in die nuwe SA Nasionale Weermag opgeneem is). Dit is daarna jaarliks opgevolg met ’n baie geslaagde verdere herdenkingsdiens, waartydens elke keer ongeveer  een honderd kranse gelê en kruise geplant is.

 

Daar word ’n inklusiewe benadering gevolg ten opsigte van die insluiting van name op die Muur van Herinnering. Dit behels derhalwe nie net die name van persone wat tydens gevegsoperasies gedood is nie, maar ook ander wat oor die betrokke tydperk in die SA Weermag gedien en onder kwalifiserende omstandighede gesterf het. Aldus die Besturende Direkteur van die Erfenisstigting word daar eerder gekyk na redes waarom ’n naam op die Muur ingesluit kan word, as na redes waarom die naam uitgesluit moet word. “Ons glo dit het ’n groot samebindende krag en help om afsluiting vir die naasbestaandes te bring”, sê hy.

 

Veral naasbestaandes van afgestorwe lede is vriendelike genooi om die herdenkingsdiens op 25 Mei by te woon en ’n krans te lê of kruis te plant ter herdenking van hul geliefdes.

 

Die herdenkingsdiens wat die afgelope aantal jare gedurende September te Fort Klapperkop plaasgevind het, word voortaan met die bovermelde diens by die SAW Muur van Herinnering geïntegreer. Daar sal derhalwe nie meer enige herdenkingsdienste te Fort Klapperkop aangebied word nie.

 

 

UITGEREIK DEUR:

 

GENL-MAJ (AFT) GN OPPERMAN

BESTURENDE DIREKTEUR

DIE ERFENISSTIGTING

TEL:      012 325 7885

FAKS:   086 616 9587

E-POS:  bd@es.org.za

Share Now:
Facebooktwitterlinkedin
Ad
Ad
Ad
Ad