Wiid vereer nadat sy kamp ontdek

Follow Us:
facebooktwitterlinkedinyoutube

Rina Wiid (78), navorser en mede-ontdekker van die Doornbult konsentrasiekamp tussen Hopetown en Orania, is Saterdag vir haar buitengewone bydrae tot erfenisbewaring vereer. ’n Oproep is ook gedoen dat die terrein tot’ n nasionale gedenkwaardigheid verklaar word. Wiid, wat die konsentrasiekamp meer as 20 jaar gelede saam met haar man, Lemmer (80), op hul plaas Doornbult ontdek het, het die Simon van der Stel-meriete sertifikaat van die Erfenisstigting van Suid-Afrika ontvang.

Die kamp is in April 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog naby die Oranjerivier-treinstasie opgerig nadat vroue, kinders en bejaardes deur die Britse owerhede van hul plase na die konsentrasiekamp geneem is. Die stigting het Wiid vir haar vrywillige en onbaatsugtige navorsing op die geskiedkundige en argeologiese terrein en die bewaring daarvan vereer. Haar werk skep ’n betekenisvolle ondervinding aan besoekers. Daarbenewens het sy etlike boeke gepubliseer, ’n museum met artefakte van die terrein, asook ’n museum met inheemse geskiedenis, opgerig. Sy hou ook die begraafplaas in stand.

Dr. Judy Macguire, ’n lid van die stigting, het gesê sy kon destyds nie glo dat daar nog so ’n goed bewaarde erfenis terrein bestaan toe sy’ n foto van kondensmelk blikkies wa tas stewel skrapers vir Britse troepe gedien het, onder oë gehad het nie. “Sedertdien is ek een van Rina se grootste aanhangers. Sy is uiters geesdriftig en haar uithouvermoë is sonder gelyke.” Macguire sê die terrein is van nasionale en internasionale belang, vanweë die Britte se betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog. “Die belangrikste boodskap van die toekenning is dat Rina se baanbrekerswerk op ’n volhoubare wyse voortleef. “Ons sal enige poging om die terrein tot’ n nasionale gedenkwaardigheid te verklaar met graagte ondersteun. Belangstellendes sal onder meer ’n motivering, terreinplan en inventaris by Sahra (die Suid-Afrikaanse Erfenis hulpbron agentskap) moet indien om die proses te begin.” As die terrein as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar word, kan dit verhoogde wetlike beskerming geniet. Die staat sal ook ’n geldelike bydrae tot die instandhoudingswerk kan lewer.

Wiid se seun en skoondogter, Rian en Antuonette, en dogter, Narinda Wiid, het die geleentheid saam met haar gevier. Wiid se man kon weens swak gesondheid nie die geleentheid bywoon nie. Wiid het gesê die belangrikste vir haar is dat mense nooit moet vergeet wat op die terrein gebeur het nie. “Ek het ontdek dat hier meer as 600 sterftes was, wat baie meer is as die 210 sterftes wat die Britte destyds opgeteken het. Hier is nog baie werk om te doen.” ’n Kruis is opgerig, waarna kranse vir die gestorwenes gelê is.

Lees die oorspronklike storie hier.

Share Now:
facebooktwitterlinkedin
Ad
Ad
Ad
Ad
R 0.000 items

Cart

For international deliveries email the store at shop@es.org.za.