-->


Follow Us:
Facebooktwitterlinkedinyoutube

Taalmuseum logo   Afrikaanse Taalraad logo   ES Logo High Definition

 

Mediavrystelling:Onmiddellik                                                                                                  Oktober 2018

Afrikaans se wortels bekyk

 

Die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taalmuseum en –monument (ATM) en Die Erfenisstigting bespreek gedurende hul herkomsseminaar in Oktober in Pretoria die wording en vestiging van Afrikaans as volwaardige inheemse taal. Die herkomsseminaar sal saamval met die bekendstelling van wyle prof. Christo van Rensburg se boek Van Afrikaans gepraat, asook die Engelse weergawe Finding Afrikaans, vertaal deur Marion Boers. Beide boeke word uitgegee deur Lapa Uitgewers. Die uitstalling Afrikaans aan die praat sal ook besigtig kan word.

Hoe en waar het Afrikaans ontstaan? Wie het almal bygedra tot die skepping van die taal? Hoe verstaan mens vandag die bydrae van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 tot die ontwikkeling en vestiging van die taal? Op watter punt in sy ontwikkelingsgeskiedenis kan ons sê ’n nuwe taal (Afrikaans, in dié geval) het ontstaan? In watter mate help die begrip kreolisering ons om die ontstaan van Afrikaans beter te verstaan?Ontwikkel die hoofvariëteite van Afrikaans nader na mekaar toe of verder uitmekaar? Hoe gaan Afrikaans in 2040 daar uitsien? Dit is van die vrae wat die gesprekspaneel, prof. Hans du Plessis (NWU), dr. Donovan Lawrence (UWK) en gespreksleier prof. Jac Conradie (UJ) onder die loep sal neem.

Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, “help gesprek oor die herkoms en eienaarskap van Afrikaans om samehorigheid onder Afrikaanssprekendes te bevorder en om wanopvattings oor die taal die nek in te slaan”.

Michael Jonas, direkteur van die ATM, sê: “Die agt stigterslede van die GRA is ’n bemoedigende voorbeeld van hoe gewone mense ’n verskil kan maak deur op te staan vir hul taal. Afrikaans verkeer vandag weer onder geweldige druk. Die ATM ondersteun debatvoering oor brandpunte in ons Afrikaanse taalgemeenskap, veral dié wat die saak van Afrikaans en al haar sprekers benadeel.”

Cecilia Kruger, uitvoerende hoof van Die Erfenisstigting, sê: “Die Erfenisstigting is gemoeid met die beskerming van ons land se tasbare erfenis, maar ook die nie-tasbare erfenis, waarvan Afrikaans die belangrikste is. Die Erfenisstigting ondersteun die handhawing, uitlewing en bevordering van Afrikaans op alle kultuur- en samelewingsvlakke.”

Die verrigtinge vind op Saterdag 20 Oktober vanaf 09:00 tot 13:00 by die Ouditsaal, Moreletapark Gemeente, Pretoria-Oos plaas. Bywoning is gratis, maar sitplekke is ongelukkig beperk. Bespreek dus so vroeg as moontlik by ria@afrikaansetaalraad.co.za om teleurstelling te voorkom.

Share Now:
Facebooktwitterlinkedin
Ad
Ad
Ad
Ad

For international deliveries email the store at shop@es.org.za. Dismiss

0

Your Cart