Follow Us:
Facebooktwitterlinkedinyoutube

DIE ERFENISSTIGTING SE NUUTSTE PUBLIKASIES NOU OP DIE RAK!

Die Erfenisstigting het in 2018 twee nuwe publikasies voltooi, wat nou in die Afrikaanse Winkel beskikbaar is. Alle fondse ingewin deur die verkoop hiervan, word aangewend vir die ES se hooftaak, nl. erfenisbewaring, die bestuur van ons erfenisterreine en ons Erfenisbewarings-bewusmakingsveldtog.

Die Voortrekkermonument Gedenkboek, saamgestel deur dr. Annie Antonites en Johan Nel, is propvol interessante en unieke foto’s, dokumente en inligting uit die geskiedenis van die Voortrekkermonument. Die gedenkboek  is saamgestel om die 80ste herdenking van die hoeksteenlegging van die monument, wat op 16 Desember 1938 plaasgevind het, te vier. Die inhoud weerspieël agt dekades van verandering en die inligting kom hoofsaaklik uit die Erfenisstigting se argief-, biblioteek- en museumversameling. Daar is baie doelbewuste besluite geneem oor die inhoud om ‘n agter-die-skerms-storie van die Monument te vertel wat Jan Alleman nie altyd van bewus is nie. Die Voortrekkermonument vier ook hierdie jaar 70 jaar sedert die inwyding op 16 Desember 1949.

Die Erfenisstigting se eerste resepteboek getiteld Deur Dik en Dun: lekker kos en stories uit ou Pretoria is geskryf deur Riana Mulder, wat vir ongeveer twee jaar daaraan gewerk het. Die boek bevat ‘n magdom feite en stories uit die hoofstad se verlede, wat deur sg. koskassies met die geskiedenis verbind word, en na elke koskassie volg ‘n aantal resepte wat verband hou met die stukkie geskiedenis. Die stories en resepte dek ‘n groot aantal onderwerpe en sluit bv. staaltjies in oor die kinders se stoutighede tydens Nagmaalnaweke, ‘n Indiërvrou se stryd om oorlewing in die oorspronklike Marabastad, die verhaal van ou Moes, die bekendste Ridder van die Grootpad in die Pretoria van die laat 1800’s, en ook die lief en leed van Pretoria se hartseerseun, Eugène Marais.

Al die resepte is maklik en geskik vir die enigiemand. Soms het Riana moderne weergawes van ou resepte gebruik om te verseker dat bestanddele geredelik beskikbaar sal wees. Die Allermaklikste Vrugtekoek-resep is bv. werklik ‘n wenner, met net drie bestanddele (en ‘n knippie sout, nie genoem in die resep nie!) Dit smaak ook nog lekkerder as ‘n mens dit deurweek met ‘n ou brandewyntjie wanneer dit uit die oond kom…

Probeer gerus ook die kolwyntjieresep- dit smelt regtig in die mond!   Die Gedenkboek is te koop teen R150.00 en Deur Dik en Dun kos R350.00. Albei kan ook aanlyn bestel word.

Share Now:
Facebooktwitterlinkedin
Ad
Ad
Ad
Ad
0

Your Cart